OORVLOEDIGE GENADE...
 

Adolph de Wit

Onvoorsiene en ondenkbare omstandighede het genoodsaak dat ek op 47 met vervroegde pensioen moes aftree. Ek was vir etlike jare in diens van die Weermag, en was ook 13 jaar aan die Noordwes-Universiteit verbonde.
Aan die begin van 2006 het ek al hoe meer die verlange begin koester om in 'n dieper verhouding met die Here te leef en 'n meer betekenisvolle Christelike lewe te lei. Ek wou so graag soos Hy wees en SY wonderlike vrede intens beleef.
Twee dinge het kort daarna gebeur waarvan ek die betekenis tóé nie werklik begryp het nie. Gedurende April 2006 het 'n vriend my een oggend gebel en gesê dat ek Markus 1:40,41 noukeurig moes lees: Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: "As U wil, kan U my gesond maak." Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: "Ek wil. Word gesond!" Hierdie woorde het ek figuurlik opgeneem en gevra dat die Here my geestelik sou genees sodat ek nader aan en intiemer met Hom kan leef. Ek het daardie woorde elke oggend gebid en oor myself uitgespreek: As U wil, kan U my genees.
Op 9 April, my verjaardag, het 'n gebedsvriendin my gebel en Heb. 13:5 in die Amplified Bible aan my voorgehou: "Let your character or moral disposition be free from love of money [including greed, avarice, lust, and craving for earthly possessions] and be satistied with your present [circumstances and with what you have]; for He [God] Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!]." 'n Week later het sy dit neergeskryf en aan my gestuur. Dit was baie kragtige woorde en ek het só wonderlik gevoel asof die Here spesiaal en persoonlik met my bemoeienis gemaak het.
In die oggende het ek met die fiets werk toe gery en die Here hardop geloof en geprys omdat Hy so goed was vir my. Steeds het ek aanhou bid vir geestelike verdieping. Toe breek Meimaand aan en die Here lewer vir my persoonlik 'n Lewenskursus af! Ek begin geweldige hoofpyne ondervind. Dit kon ek glad nie verstaan nie, want ek was besonder fiks. Ek het elke dag fiets gery en het ook gereeld die gimnasium besoek. Die hoofpyne het egter al hoe erger geraak en ek het later epileptiese aanvalle gekry.
Ek het my bewussyn verloor en is in die Krugersdorp-hospitaal opgeneem. Dit het die neuro-chirurg 5 dae geneem om te besluit presies wat hy gaan doen m.b.t. 'n operasie, aangesien dit geblyk het dat daar 'n gewas op my brein was. Die hoofpyne was só erg dat ek nie eens in staat was om te bid nie en dit het my geweldig gehinder. Net voordat die operasie toe wel sou plaasvind, het ek bewus geword daarvan dat die Here langs my staan. Ek het vir Hom gesê: "Here, ek kan nie eers bid nie!" Hy het my verseker: "Moenie bekommerd wees nie, Ek is by jou. Daar is baie mense wat vir jou bid en Ek verhoor hulle gebede."
In die teater het dit egter vir my gevoel asof ek my greep op die lewe verloor en ek was onrustig en het geskreeu. Die Here het vir my gevra: "Hoekom is jy so ontsteld? Wat het dan nou veran-der? I WILL NOT FORSAKE YOU! Ek is by jou!" Hy het my herinner aan Heb. 13:5 waarin Hy oor en oor sê "I will not forsake you."
Ek was 6 dae onder verdowing en het heeltemal tred met die tyd verloor en was van niks bewus nie. Toe ek weer dinge rondom my begin gewaar, het ek verneem dat die gewas verwyder is en dat dit nie kwaadaardig was nie. Almal by my het die Here geloof.
Later het ek agtergekom dat ek baie vergeetagtig raak. 'n Brein-biopsie is uitgevoer en die skokkende ontdekking is gedoen dat die gewas terug is - 4 keer groter! Dit was 'n baie aggressiewe primêre breinlimfoom, kanker in die sentrale senuweestelsel.
Uiteraard was dit vir my 'n geweldige skok. Daardie selfde dag het die Here egter vir my ma deur Eks. 14:14 gesê: "Moenie bang wees nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg."
Die dokter het ons meegedeel dat hy nie weer 'n operasie kon oorweeg nie, aangesien die risiko te groot was om aan die breinstam te werk. Menslik gesproke was daar geen genesing vir hierdie soort kanker nie. Ek het gesê: "Here, U is die Pottebakker, ek die klei. Ek gee my oor aan U."
Ondertussen het 'n vriend van my uit die Kaap geskakel. Hy het aan my baie bekwame dokters se name gegee wat ek moes gaan spreek. In die hospitaal het ek deur 'n sielewroeging gegaan, want ek het gedink dat indien ek hierdie dokters sou gaan spreek, ek eintlik aan die Here twyfel. Tog het Hy ook dokters daar geplaas om mense te help. Ek het myself net in Sy Hand geplaas.
Die aand toe ek gaan slaap, het die Here vir my gesê om Ps. 91:3 te lees: "Hy wat op die Allerhoogste vertrou, vir hom sal ek red van 'n dodelike siekte." Ek was baie verheug, want dit was so 'n duidelike antwoord: Die Here is in beheer! Ek is uit die hospitaal ontslaan en is terug huis toe. 'n Week later het 'n dokter my geskakel om hom te kom spreek. By sy spreekkamer aangekom, was ek verstom om die twee onkoloë van wie my vriend in die Kaap gepraat het, te sien. Toe het ek baie beslis weer eens besef: die Here is in beheer!
Intussen het die neurochirurg gesê geen bestraling, chemo of pil sal help nie. Ek het nogal teenoor my vrou opgemerk: "geen pil, behalwe die Gospel." Die dokters het verklaar dat ek 'n "korttermyn" pasiënt sal wees. Ek was baie, baie siek en is in Klerksdorp in die hospitaal opgeneem. Chemobehandeling het nie gehelp nie. Daarna het ek weer bestraling ondergaan. Na 'n verdere ondersoek is gevind dat die gewas amper weg was. Nou is die gewas weg! Een onkoloog het gesê hy kan nie glo dat ek so goed herstel het nie. Hy het selfs spottenderwys gesê dat ek nou my vlieglisensie kan kry.
Dit was weer eens vir my baie duidelik: God is 'n Waarmaker van Sy Woord. Hy het belowe dat Hy my nie in die steek sou laat nie.
Toe ek egter terugkeer van Klerksdorp het ek vir die Here gevra: Wat gaan nou aan? Want daar het weer 'n stukkie gewas begin groei. Die Here het vir my gesê om Johannes 11:4 te lees: "Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word." Ek het sommer in trane uitgebars omdat God so geduldig is met my!
Die volgende keer wat 'n skandering gedoen is, was die gewas weg. Daar is egter nog steeds kanker in my sentrale senuwee-stelsel. Tog onderhou en dra die Here my elke dag. Hy sorg vir my en ek is baie nader aan Hom as ooit vantevore. Daardie naby, intieme, vertrouensverhouding wat ek begeer het, word elke dag net 'n groter werklikheid. Daagliks open Hy vir my deure wat andersins nooit oopgemaak sou word nie. Ek fokus nou op die hemelse en hou my oog voortdurend gerig op Jesus. Ek kan met groot oortuiging verklaar: WE SERVE AN AWESOME GOD!

Indeks     Index